Wet op Huweliksgoedere 88 van 1984

 

 

 

WET OP HUWELIKSGOEDERE NO. 88 VAN 1984     [GOEDGEKEUR OP 3 JULIE 1984]    

[DATUM VAN INVOERING: 1 NOVEMBER 1984]
(Afrikaanse teks deur die Staatspresident geteken)
Hierdie Wet is opgedateer tot Staatskoerant 31908 gedateer 17 Februarie 2009.
soos gewysig deur
Wysigingswet op Huweliksgoedere, No. 91 van 1986
Wet op Intestate Erfopvolging, No. 81 van 1987
[met ingang van 18 Maart 1988]
Wysigingswet op Huweliksen
Huweliksgoederereg, No. 3 van 1988
Insolvensiewysigingswet, No. 122 van 1993
[met ingang van 1 September 1993]
Vierde Algemene Regswysigingswet, No. 132 van 1993
[met ingang van 1 Desember 1993]
Wet op Voogdy, No. 192 van 1993
[met ingang van 1 Maart 1994]
Rasionaliseringswet op Justisiewette, No. 18 van 1996
[met ingang van 1 April 1997]
Wysigingswet op Geregtelike Aangeleenthede, No. 66 van 2008
[met ingang van 17 Februarie 2009]

Om die huweliksgoederereg te wysig en om voorsiening te maak vir aangeleenthede wat daarmee in verband staan.

 


INDELING VAN WET
1. Woordomskrywing
2. Huwelike onderworpe aan aanwasbedeling
3. Aanwasbedeling
4. Aanwas van boedel
5. Erflatings, legate en skenkings uitgesluit van aanwas
6. Bewys van aanvangswaarde van boedel
7. Verpligting om besonderhede van waarde van boedel te verstrek
8. Bevoegdheid van hof om verdeling van aanwas te gelas
9. Verbeuring van reg op aanwasdeling
10. Uitstel van voldoening aan aanwasvordering
11. Afskaffing van maritale mag
12. Uitwerking van afskaffing van maritale mag
13. . . . . . .
14. Gelyke bevoegdhede van gades getroud in gemeenskap
15. Bevoegdhede van gades
16. Gebrek aan toestemming, en opskorting van gade se bevoegdhede
17. Litigasie deur of teen gades
18. Sekere vergoeding uitgesluit van gemeenskap en verhaalbaar op ander
gade
19. Aanspreeklikheid weens delikte deur gades gepleeg
20. Bevoegdheid van hof om verdeling van gemeenskaplike boedel te gelas
21. Verandering van huweliksgoederebedeling
22. Skenkings tussen gades toelaatbaar
23. Aanspreeklikheid van gades vir huishoudelike benodigdhede
24. Verdeling van huweliksgoed by ontbinding van huwelik weens gebrek aan
toestemming van ouers of voog
25. Toepassing van Hoofstukke II en III
26. . . . . . .
27. . . . . . .
28.
29.
30.
31.

 


32.
33.
34.
35.
36.
37. Herroeping van wette
38. Kort titel en inwerkingtreding

 

2.   Huwelike onderworpe aan aanwasbedeling.—Elke huwelik buite gemeenskap van goed ingevolge huweliksvoorwaardes waardeur gemeenskap van goed en gemeenskap van wins en verlies uitgesluit word, wat na die inwerkingtreding van hierdie Wet gesluit word, is aan die aanwasbedeling uiteengesit in hierdie Hoofstuk onderworpe, behalwe vir sover dié bedeling uitdruklik deur die huweliksvoorwaardes uitgesluit word.

 

3.   Aanwasbedeling.—(1)  By die ontbinding van ’n huwelik onderworpe aan die aanwasbedeling deur egskeiding of deur die dood van een van of albei die gades, verkry die gade wie se boedel geen aanwas toon nie of ’n kleiner aanwas toon as die boedel van die ander gade, of sy boedel indien hy oorlede is, ’n vordering teen die ander gade of sy boedel vir ’n bedrag gelyk aan die helfte van die verskil tussen die aanwas van die gades se onderskeie boedels.

 

(2)  Behoudens die bepalings van artikel 8(1) ontstaan ’n vordering ingevolge subartikel (1) by die ontbinding van die huwelik, en is die reg van ’n gade om ingevolge hierdie Wet in die aanwas van die ander gade se boedel te deel nie gedurende die bestaan van die huwelik sedeerbaar of vir beslaglegging vatbaar nie, en maak dit nie deel van die insolvente boedel van ’n gade uit nie.

 

4.   Aanwas van boedel.—(1)  (a)  Die aanwas van ’n gade se boedel is die bedrag waarmee die netto waarde van sy boedel by die ontbinding van sy huwelik die netto waarde van sy boedel by die aanvang van daardie huwelik oorskry.

 

(b)  By die bepaling van die aanwas van ’n gade se boedel—

 

(i)

 

word enige bedrag wat by wyse van vergoeding, uitgesonderd vergoeding vir vermoënskade, by die boedel aangewas het buite rekening gelaat;

 

(ii)

 

word ’n bate wat ingevolge die huweliksvoorwaardes van die gades van die aanwasbedeling uitgesluit is, asook enige ander bate wat hy uit hoofde van sy besit of vroeëre besit van eersgenoemde bate verkry het, nie as deel van dié boedel by die aanvang of die ontbinding van sy huwelik in aanmerking geneem nie;

 

(iii)

 

word die netto waarde van dié boedel by die aanvang van sy huwelik bereken met inagneming van enige verskil wat daar in die waarde van geld mag bestaan by die aanvang en die ontbinding van sy huwelik, en vir dié doel geld die beswaarde gemiddelde van die verbruikersprysindeks soos van tyd tot tyd in die Staatskoerant afgekondig, as prima facie-bewys van enige verandering in die waarde van geld.

 

(2)  Die aanwas van ’n oorlede gade se boedel word bepaal voordat daar aan ’n testamentêre beskikking, ’n skenking mortis causa of erfopvolging ingevolge die intestate erfreg uit daardie boedel gevolg gegee word.

 

5.   Erflatings, legate en skenkings uitgesluit van aanwas.—(1)  ’n Erflating, legaat of skenking wat ’n gade gedurende die bestaan van sy huwelik toeval, asook enige ander bate wat hy uit hoofde van sy besit of vroeëre besit van daardie erflating, legaat of skenking verkry het, maak nie deel van die aanwas van sy boedel uit nie, behalwe vir sover die gades in hulle huweliksvoorwaardes anders ooreenkom of vir sover die erflater of skenker anders bepaal.

 

(2)  By die bepaling van die aanwas van ’n gade se boedel word ’n skenking tussen gades, uitgesonderd ’n skenking mortis causa, nòg as deel van die skenker se boedel nòg as deel van die begiftigde se boedel in aanmerking geneem.

 

6.   Bewys van aanvangswaarde van boedel.—(1)  Waar ’n party by ’n voorgenome huwelik nie vir die doel van bewys van die netto waarde van sy boedel by die aanvang van sy huwelik daardie waarde in die betrokke huweliksvoorwaardes verklaar nie, kan hy vir dié doel daardie waarde voor die sluiting van die huwelik of binne ses maande daarna in ’n opgawe verklaar, wat deur die ander party onderteken moet word, en die opgawe deur ’n notaris laat attesteer en saam met die afskrif van die huweliksvoorwaardes van die partye in die protokol van die notaris voor wie die huweliksvoorwaardes verly is, laat bewaar.

 

(2)  ’n Notaris wat so ’n opgawe attesteer, moet aan die partye ’n gesertifiseerde afskrif daarvan verstrek waarop hy moet sertifiseer dat die oorspronklike saam met die afskrif van die partye se huweliksvoorwaardes in sy protokol bewaar word of, indien hy nie die notaris is voor wie die huweliksvoorwaardes verly is nie, moet hy die oorspronklike opgawe per aan-getekende pos aan die notaris stuur wat die huweliksvoorwaardes in sy protokol bewaar, of aan die bewaarder van sy protokol, na gelang van die geval, en laasgenoemde notaris of daardie bewaarder moet die oorspronklike opgawe in sy protokol bewaar tesame met die afskrif van die partye se huweliksvoorwaardes.

 

(3)  Huweliksvoorwaardes bedoel in subartikel (1) of ’n gesertifiseerde afskrif daarvan, of ’n opgawe wat ingevolge subartikel (1) onderteken en geattesteer is of ’n gesertifiseerde afskrif daarvan beoog in subartikel (2) , geld as prima facie-bewys van die netto waarde van die boedel van die betrokke gade by die aanvang van sy huwelik.

 

(4)  Die netto waarde van ’n gade se boedel by die aanvang van sy huwelik word geag nul te wees indien—

 

(a)

 

daardie gade se laste sy bates by die aanvang oorskry;

 

(b)

 

daardie waarde nie in sy huweliksvoorwaardes of in ’n opgawe ingevolge subartikel (1)  verklaar is nie en die teendeel nie bewys word nie.

 

7.   Verpligting om besonderhede van waarde van boedel te verstrek.—Wanneer dit nodig is om die aanwas van ’n gade of ’n oorlede gade se boedel te bepaal, moet daardie gade of die eksekuteur van die oorlede gade se boedel, na gelang van die geval, binne ’n redelike tyd op aanvraag deur die ander gade of die eksekuteur van die boedel van die ander gade, na gelang van die geval, volledige besonderhede van die waarde van daardie boedel verstrek.

 

8.   Bevoegdheid van hof om verdeling van aanwas te gelas.—(1)  ’n Hof kan op aansoek van ’n gade wie se huwelik aan die aanwasbedeling onderworpe is en wat die hof oortuig dat sy reg om by die ontbinding van die huwelik in die aanwas van die ander gade se boedel te deel deur die optrede of voorgenome optrede van die ander gade ernstig benadeel word of waarskynlik ernstig benadeel sal word, en dat ander persone nie daardeur benadeel sal word nie, die onmiddellike verdeling van die betrokke aanwas ooreenkomstig die bepalings van hierdie Hoofstuk of op die ander grondslag wat die hof billik ag, gelas.

 

(2)  ’n Hof wat ’n lasgewing kragtens subartikel (1)  uitreik, kan beveel dat die aanwasbedeling wat op die huwelik van toepassing is, vervang word deur ’n huweliksgoedere-bedeling ingevolge waarvan aanwasdeling asook gemeenskap van goed en gemeenskap van wins en verlies uitgesluit word.

 

(3)  Wanneer ’n bevel kragtens subartikel (2) gegee word, moet die griffier ’n afskrif daarvan aan die betrokke registrateur van aktes stuur, wat ’n paslike verwysing na die nuwe huweliksgoederebedeling op die registrasieduplikaat van die betrokke huweliksvoorwaardes en op elke afskrif daarvan wat aan hom vir endossering aangebied word, moet laat aanbring.

 

(4)  ’n Registrateur van aktes wat ingevolge subartikel (3) kennis van ’n nuwe huweliksgoederebedeling kry, moet alle ander registrateurs van aktes dienooreenkomstig in kennis stel en elk van hulle van ’n afskrif van die hofbevel voorsien, en elke registrateur van aktes wat aldus in kennis gestel word, moet ’n paslike verwysing na die nuwe huweliks-goederebedeling op die afskrif, as daar is, van die betrokke huweliksvoorwaardes wat in sy kantoor geliasseer is en op elke afskrif daarvan wat aan hom vir endossering aangebied word, laat aanbring.

 

9.   Verbeuring van reg op aanwasdeling.—Die reg om ingevolge hierdie Hoofstuk in die aanwas van ’n gade se boedel te deel, is ’n vermoënsregtelike voordeel wat, by egskeiding, in die geheel of gedeeltelik verbeurd verklaar kan word.

 

10.   Uitstel van voldoening aan aanwasvordering.—’n Hof kan op aansoek van iemand teen wie ’n aanwasvordering afdwingbaar is, gelas dat voldoening aan die vordering uitgestel word op die voorwaardes, met inbegrip van voorwaardes betreffende die stel van sekerheid, die betaling van rente, die betaling van paaiemente, en die lewering of oordrag van bepaalde bates, wat die hof billik ag.

 

HOOFSTUK II
AFSKAFFING VAN MARITALE MAG

 

11.   Afskaffing van maritale mag.—(1)  Die reël van die gemene reg ingevolge waarvan ’n man die maritale mag oor die persoon en goed van sy vrou verkry, word hierby herroep.

 

(2)  Enige maritale mag wat ’n man oor die persoon en goed van sy vrou onmiddellik voor die datum van inwerkingtreding van hierdie subartikel het, word hierby afgeskaf.

 

(3)  Die bepalings van Hoofstuk III is op elke huwelik binne gemeenskap van goed van toepassing, ongeag die datum waarop so ’n huwelik gesluit is.

 

(4)  Die afskaffing van die maritale mag by subartiel (2) raak nie die regsgevolge van enige handeling verrig of late of feit wat bestaan het voor sodanige afskaffing nie.

 

12.   Uitwerking van afskaffing van maritale mag.—Behoudens die bepalings van hierdie Wet is die uitwerking van die afskaffing van die maritale mag om weg te doen met die beperkinge wat die maritale mag op die handelings- en verskyningsbevoegdheid van ’n vrou plaas.

 

13.   . . . . . .

 

14.   Gelyke bevoegdhede van gades getroud in gemeenskap.—Behoudens die bepalings van hierdie Hoofstuk het ’n vrou in ’n huwelik in gemeenskap van goed dieselfde bevoegdhede met betrekking tot die beskikking oor die bates van die gemeenskaplike boedel, die aangaan van skulde wat van die gemeenskaplike boedel verhaalbaar is, en die bestuur van die gemeenskaplike boedel, as dié wat ’n man in so ’n huwelik onmiddellik voor die inwerkingtreding van hierdie Wet gehad het.

 

15. Bevoegdhede van gades.—(1) Behoudens die bepalings van subartikels (2), (3) en (7) kan ’n gade in ’n huwelik in gemeenskap van goed sonder die toestemming van die ander gade enige regshandeling met betrekking tot die gemeenskaplike boedel verrig.

 

 

 

(2) So ’n gade mag nie sonder die skriftelike toestemming van die ander gade—

 

 

 

(a) onroerende goed wat deel van die gemeenskaplike boedel uitmaak, vervreem of met verband of serwituut beswaar of enige ander saaklike reg daaroor verleen nie;

 

 

 

(b) enige kontrak ter vervreemding of beswaring met verband of serwituut of ter verlening van enige ander saaklike reg oor onroerende goed wat deel van die gemeenskaplike boedel uitmaak, sluit nie;

 

 

 

(c) enige aandele, effekte, obligasies, skuldbriewe, versekeringspolisse, verbande, vaste deposito’s of enige dergelike bates, of ’n belegging deur of ten behoewe van die ander gade in ’n finansiële instelling, wat deel van die gemeenskaplike boedel uitmaak, vervreem, sedeer of verpand nie;

 

 

 

(d) enige juwele, munte, seëls, skilderye of enige ander bates wat deel van die gemeenskaplike boedel uitmaak en hoofsaaklik as beleggings gehou word, vervreem of verpand nie;

 

 

 

(e) geld wat op naam van die ander gade in enige rekening by ’n bankinstelling, ’n bouvereniging of die Posspaarbank van die Republiek van Suid-Afrika staan, onttrek nie;

 

 

 

( f ) as kredietopnemer ’n kredietooreenkoms soos omskryf in die Wet op Kredietooreenkomste, 1980 (Wet No. 75 van 1980), en waarop die bepalings van daardie Wet ingevolge artikel 2 daarvan van toepassing is, sluit nie;

 

 

 

(g) as koper ’n kontrak soos omskryf in die Wet op Vervreemding van Grond, 1981 (Wet No. 68 van 1981), en waarop die bepalings van daardie Wet van toepassing is, sluit nie;

 

 

 

(h) hom as borg verbind nie.

 

 

 

(3) ’n Gade mag nie sonder die toestemming van die ander gade—

 

 

 

(a) meubels of ander losgoed van die gemeenskaplike huishouding wat deel van die gemeenskaplike boedel uitmaak, vervreem, verpand of andersins beswaar nie;

 

 

 

(b) geld wat aan dié ander gade of die gemeenskaplike boedel verskuldig is of toeval by wyse van—

 

 

 

(I) besoldiging, verdienste, bonus, toelae, tantième, pensioen of gratifikasie, uit hoofde van sy beroep, bedryf, besigheid, of dienste deur hom gelewer;

 

 

 

(ii) skadevergoeding weens verlies van inkomste beoog in subparagraaf (i);

 

 

 

(iii) erflating, legaat, skenking, beurs of prys aan die ander gade nagelaat, bemaak, gemaak of toegeken;

 

 

 

(iv) inkomste verkry uit die afsonderlike goed van die ander gade;

 

 

 

(v) dividende of rente op of die opbrengs van aandele of beleggings op naam van die ander gade;

 

 

 

(vi) die opbrengs van ’n versekeringspolis of annuïteit ten gunste van die ander gade,

 

 

 

ontvang nie;

 

 

 

(c) enige bate van die gemeenskaplike boedel aan ’n ander persoon skenk of dit sonder teenwaarde vervreem nie, uitgesonderd ’n bate waarvan die skenking of vervreemding nie die belang van die ander gade in die gemeenskaplike boedel onredelik benadeel of waarskynlik nie aldus sal benadeel nie, en wat nie in stryd met die bepalings van subartikel (2) of paragraaf (a) van hierdie subartikel is nie.

 

 

 

(4) Die toestemming vereis vir die doeleindes van paragrawe (b) tot (g) van subartikel (2), en subartikel (3) kan, behalwe waar dit vir die registrasie van ’n akte in ’n registrasie- kantoor vereis word, ook by wyse van ratifikasie binne ’n redelike tyd na die betrokke handeling gegee word.

 

 

 

(5) Die toestemming wat vir die verrigting van die handelinge beoog in paragrawe (a), (b), ( f ), (g) en (h) van subartikel (2) vereis word, moet ten opsigte van elke handeling afsonderlik gegee word en deur twee bevoegde getuies geattesteer word.

 

 

 

(6) Die bepalings van paragrawe (b), (c), ( f ), (g) en (h) van subartikel (2) is nie van toepassing nie waar ’n handeling in daardie paragrawe beoog deur ’n gade in die gewone loop van sy beroep, bedryf of besigheid verrig word.

 

 

 

(7) Ondanks die bepalings van subartikel (2) (c) kan ’n gade sonder die toestemming van die ander gade—

 

 

 

(a) genoteerde effekte op die effektebeurs verkoop en genoteerde effekte sedeer of verpand ten einde genoteerde effekte te koop;

 

 

 

(b)

(I) ’n deposito wat by ’n bouvereniging of ’n bankinstelling op sy naam staan;

 

 

 

(ii) bouverenigingsaandele wat op sy naam geregistreer is, vervreem, sedeer of verpand.

 

 

 

(8) By die bepaling daarvan of ’n skenking of vervreemding beoog in subartikel (3) (c) nie die ander gade se belang in die gemeenskaplike boedel onredelik benadeel nie of waarskynlik nie aldus sal benadeel nie, moet die hof die waarde van die goed wat geskenk of vervreem is, die rede vir die skenking of vervreemding, die finansiële en sosiale stand van die gades, hul lewenspeil en enige ander faktor wat na die oordeel van die hof in aanmerking geneem behoort te word, in ag neem.

 

 

 

(9) Wanneer ’n gade in stryd met die bepalings van subartikel (2) of (3) van hierdie artikel, of ’n bevel kragtens artikel 16 (2), ’n transaksie met ’n persoon aangaan en—

 

 

 

(a) dié persoon nie weet en redelikerwys kan weet dat die transaksie in stryd met daardie bepalings of bevel aangegaan word nie, word daar geag dat die betrokke transaksie aangegaan is met die toestemming wat ingevolge genoemde subartikel (2) of (3) vereis word, of terwyl die betrokke bevoegdheid van die gade nie opgeskort was nie, na gelang van die geval;

 

 

 

(b) die gade weet of redelikerwys behoort te weet dat hy waarskynlik nie die toestemming wat ingevolge genoemde subartikel (2) of (3) vereis word, sal verkry nie of dat die betrokke bevoegdheid opgeskort is, na gelang van die geval, en die gemeenskaplike boedel as gevolg van die transaksie ’n verlies ly, moet verrekening ten gunste van die ander gade by die verdeling van die gemeenskaplike boedel geskied.

 

 

 

16.   Gebrek aan toestemming, en opskorting van gade se bevoegdhede.—(1)  Wanneer ’n gade die toestemming wat ingevolge  subartikel (2) of (3) van artikel 15 , of artikel 17, vereis word, weerhou, of wanneer die toestemming om ’n ander rede nie verkry kan word nie, kan ’n hof op aansoek van die ander gade hom verlof gee om die transaksie sonder die vereiste toestemming aan te gaan indien die hof oortuig is dat, in die geval waar die toestemming weerhou word, die weerhouding onredelik is of, in enige ander geval, daar goeie rede bestaan om van die toestemming af te sien.

 

(2)  Indien ’n hof oortuig is dat dit ter beskerming van ’n gade se belang in die gemeenskaplike boedel noodsaaklik is, kan hy op aansoek van daardie gade enige bevoegdheid wat die ander gade kragtens hierdie Hoofstuk mag uitoefen, vir ’n bepaalde of ’n onbepaalde tydperk opskort.

 

17.   Litigasie deur of teen gades.—(1)  ’n Gade wat in gemeenskap van goed getroud is, mag nie sonder die skriftelike toestemming van die ander gade geregtelike verrigtinge teen ’n ander persoon instel nie of geregtelike verrigtinge deur ’n ander persoon ingestel, bestry nie, behalwe geregtelike verrigtinge—

 

(a)

 

ten aansien van sy afsonderlike goed;

 

(b)

 

vir die verhaal van vergoeding, uitgesonderd vergoeding vir vermoënskade, weens die pleeg van ’n delik teen hom;

 

(c)

 

ten aansien van ’n aangeleentheid wat betrekking het op sy beroep, bedryf of besigheid.

 

(2)  ’n Party by geregtelike verrigtinge deur ’n gade ingestel of bestry, kan nie op grond van die gebrek aan toestemming vereis ingevolge subartikel (1) die geldigheid van die verrigtinge betwis nie.

 

(3)  Indien koste teen ’n gade toegeken word in geregtelike verrigtinge wat hy sonder die toestemming vereis ingevolge subartikel (1) ingestel of bestry het, kan die hof, met inagneming van die ander gade se belang in die gemeenskaplike boedel en die rede vir die gebrek aan toestemming, gelas dat die koste van die afsonderlike goed van eersbedoelde gade, as daar is, verhaal word en, vir sover daardie koste nie aldus verhaal kan word nie, dat dit van die gemeenskaplike boedel verhaal word, in welke geval die hof kan gelas dat daar by die verdeling van die gemeenskaplike boedel verrekening ten gunste van die ander gade moet geskied.

 

(4)  (a)  ’n Aansoek om oorgawe van ’n gemeenskaplike boedel moet deur albei gades gedoen word.

 

(b)  ’n Aansoek om die sekwestrasie van ’n gemeenskaplike boedel moet teen albei gades gedoen word: Met dien verstande dat geen aansoek om die sekwestrasie van ’n skuldenaar se boedel van die hand gewys word op grond daarvan dat sodanige skuldenaar se boedel ’n gemeenskaplike boedel is nie indien die applikant die hof oortuig dat ondanks redelike stappe deur hom gedoen, hy nie kon vasstel nie of die skuldenaar in gemeenskap van goed getroud is of wat die naam en adres van die skuldenaar se gade is.

 

(5)  Waar ’n skuld van ’n gemeenskaplike boedel verhaalbaar is, kan die gade wat die skuld aangegaan het of albei gades gesamentlik daarvoor aangespreek word, en waar ’n skuld vir benodigdhede vir die gesamentlike huishouding aangegaan is, kan die gades gesamentlik of afsonderlik daarvoor aangespreek word.

 

HOOFSTUK IV
ALGEMENE BEPALINGS

 

18.   Sekere vergoeding uitgesluit van gemeenskap en verhaalbaar op ander gade.—Ondanks die feit dat ’n gade in gemeenskap van goed getroud is—

 

(a)

 

val enige bedrag wat hy of sy by wyse van vergoeding, uitgesonderd vergoeding vir vermoënskade, weens die pleeg van ’n delik teen hom of haar, op enige persoon verhaal het, nie in die gemeenskaplike boedel nie, maar word dit sy of haar afsonderlike goed;

 

(b)

 

kan hy of sy op die ander gade vergoeding verhaal ten opsigte van liggaamlike beserings deur hom of haar opgedoen en wat in die geheel of gedeeltelik aan die skuld van daardie gade te wyte is en hierdie vergoeding word nie deel van die gemeenskaplike boedel nie, maar word die afsonderlike goed van die beseerde gade.

 

 

 

19.   Aanspreeklikheid weens delikte deur gades gepleeg.—Wanneer ’n gade aanspreeklik is vir die betaling van skadevergoeding, met inbegrip van genoegdoening, weens ’n delik deur hom gepleeg, of wanneer ’n bydrae kragtens die Wet op die Verdeling van Skadevergoeding, 1956 (Wet No. 34 van 1956), op ’n gade verhaalbaar is, is dié skade-vergoeding of bydrae en enige koste teen hom toegeken, van die afsonderlike goed, as daar is, van daardie gade verhaalbaar, en slegs vir sover hy nie afsonderlike goed het nie, van die gemeenskaplike boedel: Met dien verstande dat vir sover die skadevergoeding, bydrae of koste van die gemeenskaplike boedel verhaal is, verrekening ten gunste van die ander gade of sy boedel, na gelang van die geval, by die verdeling van die gemeenskaplike boedel moet geskied.

 

20.   Bevoegdheid van hof om verdeling van gemeenskaplike boedel te gelas.—(1)  ’n Hof kan op aansoek van ’n gade, indien hy daarvan oortuig is dat die gade se belang in die gemeenskaplike boedel deur die optrede of voorgenome optrede van die ander gade ernstig benadeel word of waarskynlik ernstig benadeel sal word, en dat ander persone nie daardeur benadeel sal word nie, die onmiddellike verdeling van die gemeenskaplike boedel in gelyke dele of op die ander grondslag wat die hof billik ag, gelas.

 

(2)  ’n Hof wat ’n lasgewing kragtens subartikel (1) uitreik, kan gelas dat die gemeenskap van goed vervang word deur ’n ander huweliksgoederebedeling, onderworpe aan die voorwaardes wat hy goedvind.

 

 

 

21.   Verandering van huweliksgoederebedeling.—(1)  ’n Man en vrou, hetsy hulle voor of na die inwerkingtreding van hierdie Wet in die huwelik getree het, kan gesamentlik by ’n hof aansoek doen om verlof om die huweliksgoederebedeling, met inbegrip van die mari- tale mag, wat op hul huwelik van toepassing is, te verander, en die hof kan, indien hy oortuig is dat—

 

(a)

 

daar gegronde rede vir die voorgenome verandering bestaan;

 

(b)

 

aan al die skuldeisers van die gades voldoende kennis van die voorgenome verandering gegee is; en

 

(c)

 

geen ander persoon deur die voorgenome verandering benadeel sal word nie,gelas dat daardie huweliksgoederebedeling nie meer op hul huwelik van toepassing sal wees nie en hulle magtig om ’n notariële kontrak te sluit waardeur hul toekomstige huweliksgoederebedeling gereël word op die voorwaardes wat die hof goedvind.

 

(2)  (a)  Ondanks andersluidende bepalings van die een of ander wet of die gemene reg, maar behoudens die bepalings van paragrawe (b) en (c), kan die gades by ’n huwelik buite gemeenskap van goed—

 

(i)

 

wat voor die inwerkingtreding van hierdie Wet gesluit is ingevolge huweliksvoorwaardes waardeur gemeenskap van goed en gemeenskap van wins en verlies uitgesluit is; of

 

(ii)

 

wat voor die inwerkingtreding van die Wysigingswet op Huweliks- en Huweliksgoederereg, 1988, gesluit is ingevolge artikel 22 (6) van die Swart Administrasie Wet, 1927, soos dit van krag was onmiddellik voor die herroeping daarvan deur genoemde Wysigingswet op Huweliks- en Huweliksgoederereg, 1988,

 

die bepalings van Hoofstuk 1 van hierdie Wet ten opsigte van hul huwelik laat geld deur die verlyding en registrasie in ’n registrasiekantoor binne twee jaar na die inwerkingtreding van hierdie Wet of, in die geval van ’n huwelik bedoel in subparagraaf (ii) van hierdie paragraaf, binne twee jaar na die inwerkingtreding van genoemde Wysigingswet op Huweliks- en Huweliksgoederereg, 1988, na gelang van die geval, of sodanige langer tydperk, maar nie minder as ses maande nie, wat die Minister by kennisgewing in die Staatskoerant bepaal, van ’n notariële kontrak met daardie strekking.

 

 

 

22.   Skenkings tussen gades toelaatbaar.—Behoudens die bepalings van die Insolvensiewet, 1936 , is geen transaksie voor of na die inwerking-treding van hierdie Wet uitgevoer nietig of vernietigbaar slegs omdat dit op ’n skenking tussen gades neerkom nie.

 

23.   Aanspreeklikheid van gades vir huishoudelike benodigdhede.—(1)  Enige verhaalsreg wat een gade ingevolge die gemene reg of die een of ander wet wat by die inwerkingtreding van hierdie Wet van krag is of voor daardie inwerkingtreding van krag was, teen die ander gade mag hê ten aansien van bydraes gemaak vir benodigdhede vir die gades se gesamentlike huishouding, verval, behoudens die bepalings van subartikel (3) en (4), by dié inwerkingtreding.

 

(2)  ’n Gade wat voor of na die inwerkingtreding van hierdie Wet buite gemeenskap van goed getroud is, is verplig om ten opsigte van benodigdhede vir die gesamentlike huis- houding pro rata ooreenkomstig sy finansiële vermoë by te dra, en word geag aldus verplig te gewees het vir die tydperk vanaf die aanvang van sy huwelik tot by dié inwerkingtreding.

 

(3)  ’n Gade wat voor die inwerkingtreding van hierdie Wet buite gemeenskap van goed getroud is, het ’n verhaalsreg teen die ander gade vir sover hy ten opsigte van be- nodigdhede vir die gesamentlike huishouding meer bygedra het as waartoe hy ingevolge subartikel (2) verplig was.

 

(4)  By ontstentenis van ’n ooreenkoms tussen gades tot die teendeel, het ’n gade nie teen die ander gade met wie hy na die inwerkingtreding van hierdie Wet buite gemeenskap van goed getroud is ’n verhaalsreg met betrekking tot enige bydrae wat hy ten opsigte van benodigdhede vir die gesamentlike huishouding gemaak het nie.

 

(5)  Gades buite gemeenskap van goed getroud, is teenoor derdes gesamentlik en afsonderlik aanspreeklik vir alle skulde deur die een of die ander van hulle ten opsigte van benodigdhede vir die gesamentlike huishouding aangegaan.

 

(6)  subartikel (1) word nie uitgelê as sou dit aan ’n gade ’n reg verleen om enigiets terug te eis wat hy by die inwerkingtreding van hierdie Wet reeds ter voldoening van ’n verhaalsreg gepresteer het nie, en  subartikel (3) word nie uitgelê as sou dit aan ’n gade ’n reg verleen om die verhaalsreg vermeld in daardie subartikel uit te oefen ten opsigte van enige tydperk met betrekking waartoe hy reeds ’n verhaalsreg op ’n ander grondslag uitgeoefen het nie.

 

24.   Verdeling van huweliksgoed by ontbinding van huwelik weens gebrek aan toestemming van ouers of voog.—(1)  Indien ’n hof ’n huwelik waarby ’n minderjarige ’n party is, ontbind op grond van die gebrek aan toestemming deur die ouers of voog van die minderjarige, of ’n kommissaris van kindersorg wie se toestemming regtens vir die aangaan van ’n huwelik vereis word, kan hy dié bevel met betrekking tot die verdeling van die huweliksgoed van die gades gee wat hy billik ag.

 

(2)  Indien so ’n huwelik nie ontbind word nie, is die vermoënsregtelike gevolge van die huwelik dieselfde asof die minderjarige ten tyde van die sluiting van die huwelik meerderjarig was en word enige huweliksvoorwaardes ingevolge waarvan die aanwasbedeling ingesluit is en wat met die oog op so ’n huwelik verly is, geag geldig verly te wees.

 

 

 

 

 

25.   Toepassing van Hoofstukke II en III.—(1)  . . . . . .

 

(2)  Ondanks andersluidende bepalings van die een of ander wet of die gemene reg, kan die gades by ’n huwelik wat voor die inwerkingtreding van hierdie Wet gesluit is en ten aansien waarvan die huweliksgoederebedeling nie deur artikel 22 van die Swart Administrasie Wet, 1927 bepaal is nie—

 

(a)

 

indien hulle in gemeenskap van goed getroud is, die bepalings van Hoofstukke II en III van hierdie Wet ten opsigte van hul huwelik laat geld; of

 

(b)

 

indien hulle buite gemeenskap van goed getroud is en die vrou onderworpe is aan die maritale mag van die man, die bepalings van Hoofstuk II van hierdie Wet ten opsigte van hul huwelik laat geld,

 

deur die verlyding en registrasie in ’n registrasiekantoor binne twee jaar na genoemde inwerkingtreding of sodanige langer tydperk, maar nie minder as ses maande nie, wat die Minister by kennisgewing in die Staatskoerant bepaal, van ’n notariële kontrak met daardie strekking, en in so ’n geval geld dié bepalings vanaf die datum waarop die betrokke kontrak aldus geregistreer is.

 

(3)  Ondanks andersluidende bepalings van die een of ander wet of die gemene reg, kan die gades by ’n huwelik wat voor die inwerkingtreding van die Wysigingswet op Huweliks- en Huweliksgoederereg, 1988, gesluit is en ten aansien waarvan die huweliksgoederebedeling deur artikel 22 van die Swart Administrasie Wet, 1927, bepaal is— (a)

 

indien hulle in gemeenskap van goed getroud is, die bepalings van Hoofstukke II en III van hierdie Wet ten opsigte van hul huwelik laat geld; of

 

(b)

 

indien hulle buite gemeenskap van goed getroud is en die vrou onderworpe is aan die maritale mag van die man, die bepalings van Hoofstuk II van hierdie Wet ten opsigte van hul huwelik laat geld,

 

deur die verlyding en registrasie in ’n registrasiekantoor binne twee jaar na genoemde inwerkingtreding of sodanige langer tydperk, maar nie minder as ses maande nie, wat die Minister by kennisgewing in die Staatskoerant bepaal, van ’n notariële kontrak met daardie strekking, en in so ’n geval geld dié bepalings vanaf die datum waarop die betrokke kontrak aldus geregistreer is.

Thursday, 02 February 2017 Posted in Voorhuwelikse Kontrakte Suid Afrika (HVK)

Leave a comment

You are commenting as guest.
UA-1709631-55